GEESTELIKE OPENBARING VS. GESONDE VERSTAND
 
Die gebeure rondom die storm op die see van Galilea is altyd aangrypend om te lees (Matt. 14:22-32).
In hierdie gedeelte lees ons hoe Jesus op die see geloop het. Die dissipels het groot geskrik en gedink dat hulle ‘n spook sien. Jesus het egter gerus-stellend met hulle gepraat.
Daarop het Petrus gesê: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom” (vers 28).
Op Jesus se bevel loop hy toe op die water. Dan lees ons: “Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!” (vers 30).
Toe steek Jesus Sy hand uit, gryp hom, en red hom met dié woorde: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (vers 31). “Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê” (vers 32).
As gelowiges kan ons ons so maklik met hierdie gebeure identifiseer. Ons probleem kom wanneer die Here wil hê ons moet deur die geloof lewe, maar ons leef in die natuurlike dimensie - die dimensie van sintuiglike kennis. Die dimen-sie van “gesonde verstand” soos ons so dikwels hoor.
“Gesonde verstand” sê vir ons dat die een of ander saak onmoontlik is, terwyl die Woord vir ons sê dat “geen ding by God onmoontlik [sal] wees nie” (Luk. 1:37). [Lees verder ook: Gen. 18:14(a); Jer. 32:17(b), 27(b); Matt. 19:26(b); Mark 10:27; Luk. 18:27].
Soos Petrus, kyk ons ook na die storm in ons lewens en ons sintuiglike waarneming (“gesonde verstand”) sê vir ons dat dit vir geen mens moontlik is om “op die water te bly loop” en nog heelhuids anderkant uit te kom wanneer jy jou in ‘n storm bevind nie.
Dan sink ons, want ons het nie in die geloof gewandel nie! Geloof lê in die geesdimensie. Slegs hulle wat lewend gemaak is deur wedergeboorte, is in staat om deur die geloof te wandel.
Sintuiglike kennis is die natuurlike waarnemingsvermoë d.m.v. ons vyf sintuie, nl. sig, smaak, gehoor, reuk en gevoel (tas). Dit lê op sielsvlak.
Openbaringskennis vloei voort uit die geesdimensie en is slegs moontlik vir diegene wie se gees by wedergeboorte lewend ge-maak is deur die Heilige Gees. Deur ‘n ingewing van die Heilige Gees kan ons dus hoor dat Hy bv. vir ons sê om vir iemand wat in groot nood verkeer in te tree, materieel te ondersteun, of ‘n Skrifgedeelte te SMS.
Ons moet die lewende Woord deur geloof in ons gees ontvang en daardeur lewe. Voorheen het ek my deur ‘n wilsbesluit aan die kant van my probleem geskaar en vanuit die sintuig-like dimensie gelewe.
Nou verwag God van my om my wil in te span en my aan die kant van die Woord van God te skaar en in geesdimensie te leef.
Wanneer ek sê “ek wil”, kom die Gees my swak geloof te hulp en help my sodat ek my in vertroue in Sy arms kan werp. Jesus se woord word vir my waar: “...My juk is sag en My las is lig” (Matt. 11:28). Hy vra dus nie van my ‘n onmoontlike saak nie. Inteendeel, Hy help my nog om dit uit te voer!
Ons sal gedurig geloofstoetse en beproewinge beleef - oor en oor - totdat ons geleer het om vanuit die geesdimensie te lewe en ons geheel en al op Hom te werp, Sy Woord te glo, en te bely.
Ons sal leer dat die sintuiglike kennis van “gesonde verstand” nie so “gesond” blyk te wees nie. Geestelike werklikheid lê nie op die vlak van “gesonde verstand” nie, maar op die vlak van geestelike kennis of openbaringskennis. Wat belangrik is, is nie meer soseer wat ek sien, hoor, voel, proe of ruik nie. Die groter werklikheid is wat God deur Sy Gees in my gees openbaar. Daarvolgens moet ek my lewe inrig. DAN LEEF EK IN OORWINNING!

Indeks     Index